Susters – ‘n Eg Suid-Afrikaanse Chick-Fliek

’n Komiese, gesinsvriendelike fliek wat ietsie van die alledaagse uitbeeld, maar wat sy eie, unieke stempel het en mense se harte aanraak met ’n positiewe boodskap.

Suid-Afrikaanse fliekgangers kan uitsien na die uitreiking van die splinternuwe rolprent, Susters,  die verhaal van drie aangenome susters wat van mekaar vervreemd geraak het. Na hul ma se dood vertrek hulle saam op ’n ontdekkingsreis. Dis ’n reis gevul met tere herinneringe, interessante karakters, ongelooflike mooi plekke en dit waarin die skoner geslag uitblink: om hope pret te hê.

Die rolverdeling sluit bekende name in, soos die veelbekroonde sangeres Leah, wie se albumverkope reeds goue status behaal het, en wat as aktrise bekend is vir haar rolle in As Jy Sing en Sterlopers. Quanita Adams speel ook ’n suster en is self geen vreemdeling vir die kollig nie en het heelwat televisie- en filmrolle op haar kerfstok. Die derde suster word deur Diaan Lawrenson gespeel, wat veral bekend is vir haar rol as Paula in 7de Laan. En dis maar net die hoofrolle – die kykers kan hulle gereed maak vir heelwat verrassings met bekendes wat kleiner rolle gaan vertolk.

Corné Van Rooyen, bekend as regisseur van Hollywood in my huis en Vaselinetjie, is in die regisseurstoel. Die draaiboek is deur Corine du Toit en Sandra Vaughn geskryf, ’n gedugte skryfspan wat vir ’n magdom film- en televisiedraaiboeke, wat lokettreffers soos Semi-Soet insluit, verantwoordelik was. Dis ook nie aldag dat ’n vrou in beheer van die kinematografie is nie, maar Sunel Haasbroek slaag daarin om ’n unieke vroulike blik op die wêreld waarin die susters hulle bevind, te gee.

Susters is deur Jenny Griesel en Johan Vorster vervaardig.

Die aangenome susters Leksie, Cecile en Jo, wat verspreid oor die uithoeke van die aarde woon, word al drie onkant gevang toe hulle die oproep kry dat hulle ma oorlede is. Leksie, die entomoloog, het pas in Mongolië ’n fratsgogga ontdek wat hopelik dié keer sal verseker dat haar naam in die Guiness Book of Insects verskyn. Jo, ’n top-modeontwerper, was besig om een van haar skeppings vir haar heel eerste Londense modeweekbekendstelling aan ’n uitgeteerde model se lyf te pas en in Johannesburg was Cecile besig om haar trop kinders met die grasie van ’n balletdanser te probeer organiseer terwyl sy terselfdertyd idees vir haar volgende hygroman uitdink.

Nou is die drie weer vir die eerste keer in jare weer saam in die huis waar hulle grootgeword het. Die omstandighede is donker en hulle emosies loop hoog terwyl hulle teësinnig hul oorlede ma Martie se laaste wense uitvoer.

Die eksentrieke Martie het aan Frans, haar sexy manlike verpleër, streng opdrag gegee oor haar laaste wense: die hele lotjie moet op ’n roadtrip gaan om Martie se as te gaan strooi en vir Kasper, haar honger luislang, by sy aftreeoord af te laai. Dit dwing die drie susters om tyd saam te spandeer, en tyd is nou nie juis iets waarvan enige een van hulle baie het nie.  En dis juis op hierdie uitstappie waar ’n heelwat avontuur en ’n klompie struikelblokke hul tol  op almal eis … veral op Kasper!

SUSTERS MASTER

Jenny Griesel – Vervaardiger En Lynvervaardiger

As Jy Sing, HORN, Somer Son, Gat in die Muur, Van De La Rey Tot Nou (DVD), Met My Hele Hart (TV).

Hoe het jy by Susters betrokke geraak?

Toe ek en Johan Vorster Inhoud Huis Media in 2016 gestig het, was dit ons albei se droom om ’n chick flick te maak – die soort fliek waarmee Suid-Afrikaanse vroue hulle kan vereenselwig. Dit was altyd ons plan om ’n komiese, gesinsvriendelike fliek te maak wat ietsie van die alledaagse uitbeeld, maar wat sy eie, unieke stempel moes hê en mense se harte moes aanraak met ’n positiewe boodskap.

Wat is die boodskap wat jy met Susters wil oordra?

Eerstens moet die vervaardiger (wat ’n fliek maak) en die skrywer (wat die teks skryf), nooit met mekaar verwar word nie. Ons het van Suid-Afrika se top-draaiboekskrywers genader om Susters te skryf en is onsettend dankbaar dat Sandra Vaughn en Corine du Toit ingestem het om dit te doen. Wat jy dus op die groot skerm sien, is ons interpretasie van wat hulle geskryf het. Maar as die vervaardiger wat so lang pad met die projek stap, kan jy nie help om jou eie hart en drome in ’n fliek te sit nie, en natuurlik is daar ’n paar dinge wat jy daarmee wil sê of doen.

Om mee te begin, wou ons ’n chick-fliek maak. Nie net ’n fliek wat ma’s, dogters, sussies, oumas en vriendinne sal laat lag nie, maar ook ’n fliek met ’n vrou se groot hart, deur vroue, vir vroue. ’n Rolprent met ’n eie unieke stempel.

SUSTERS PRODUCER

Die boodskappe wat ek persoonlik met die fliek wou oordra, is eenvoudig: 

  • Jou begin bepaal nie jou einde nie. Susters vertel die storie van drie aangenome susters wat hulle drome gevolg het en elkeen op haar eie manier sukses behaal het. En met sukses bedoel ek nie noodwendig loopbaansukses nie. Hul sukses lê eerder in die feit dat hulle weet wie hulle is en dat hulle nie toegelaat het dat hulle beginjare hulle gekeer het om die lewe voluit te ervaar nie. Hulle ma was ’n eksentrieke vrou wat haar tyd ver vooruit was, ’n sterk vrou wat hulle aangemoedig om die wêreld te verken. My reise is ’n groot deel van wie ek is, en hoe meer ek van die wêreld sien, hoe beter verstaan ek dat ons almal maar net mense is wat op ons eie manier tevrede met ons lewens wil wees.
  • Dit wat jy dink jou vreemd vir ander maak, is eintlik dit wat jou uniek maak. Niemand het al ooit enige iets merkwaardig in die wêreld bereik deur in te pas, of deur dieselfde as die res van die mensdom te dink nie. Cool is vir my ’n bewegende teiken. My cool  is nie dieselfde as jou of iemand anders s’n nie, maar om trots te wees op wie en wat jy is, is
  • Jy is oukei. Vroue dink almal in die een of ander stadium – al is dit dalk net vir ’n oomblik – dat ons nie goed genoeg (of sterk genoeg) is om ’n spesifieke situasie te hanteer nie, of dat ons nie cool genoeg is vir iemand nie. Dink maar aan jou gesprekke met vriendinne. Glo my, suster, jy is sterker as wat jy dink jy is. Wanneer jy op jou swakste voel, kyk diep binne jouself, en dink net aan al die berge wat jy reeds geklim het. Onthou jy toe daardie einste berge onklimbaar gevoel het? Maar tog het jy die berg verower.
    Onthou: geen uitdaging is ooit te groot vir jou nie, en jy is nooit alleen nie. Daar is altyd iewers iemand wat jou liefhet en wat die pad saam met jou wil stap. Ons is nie veronderstel om die lewe alleen aan te durf nie, en as jy net rondom jou kyk, sal jy besef hoeveel mense jy klaar in jou lewe het wat bitter lief vir jou is. Dankbaarheid is ’n groot deel van gelukkig wees.

Johan Vorster – Vervaardiger En Musiekregisseur

Platteland, As Jy Sing, Gat in die Muur.

Vertel ons meer van die musiek …

Die musiek in die rolprent is sorgvuldig gekies om die komiese oomblikke en kameraderie tussen die susters uit te lig. Daar is byvoorbeeld ’n wonderlike saamsing-toneel terwyl hulle op die langpad is. Ons het ook die Bangles-liedjie Walk like an Egyptian gebruik om ’n konneksie tussen die dogters se kleintyd en hul lewens nou as volwassenes te skep. Die duet, Nooit Alleen, is spesiaal  vir Leah en Jo Black geskryf en is ook die fliek se temalied. Pressure Cooker Studios in Kaapstad het die prent se fyn, donker humor uitstekend verstaan en ’n wonderlike klankbaan geskep. Ons almal – maar veral ons regisseur – is mal daaroor.

Wat maak Susters uniek?  

Dis die eerste Afrikaanse chick flick en het boonop ’n puik draaiboek. Dit is ook pragtig verfilm en die akteurs lewer uitmuntende vertonings.

Corné Van Rooyen – Regisseur

Hollywood in my Huis, Vaselinetjie, Kokkedoortjie (TV), Pasella (TV)

Wat is jou visie vir die rolprent?

Voor ek ’n rolprent aanpak, moet ek eers ’n persoonlike konneksie met die draaiboek vind. Die raakpunt met hierdie draaiboek was die gevoel van avontuur en reise na onontdekte plekke en planete en nuwe wêrelde. Toe ek klein was, het my ouma altyd vir my stories van Jules Verne gelees – sulke bisarre avonture met onontdekte eilande en eienaardige karakters en vreemde gebeure. My ouma was totaal en al gefassineerd deur die maan, sterre en planete. Ek glo haar grootse droom tot en met haar dood was om maan toe te gaan. Ek wou hê die gehoor moes dieselfde gevoel ervaar as toe my ouma kleintyd vir my daardie Jules Verne-stories gelees het.

SUSTERS CORNE

Vertel van die kamerastyl …

Dit was vir my belangrik om die karakters deur middel van die kamerastyl in die landskap vas te vang. Die wye lense en vloeiende skote wat die karakters volg, het bygedra tot die film se natuurlike styl. Die kamerawerk self moes nooit aandag trek nie, maar eerder die kollig plaas – en hou – op die storie en karakters. Ons kinematograaf was Sunel Haasbroek met wie ek al vir baie jare ’n baie nou en persoonlike konneksie het. Om saam met ’n goeie vriendin te werk, het Susters die soort hart en siel gegee wat ek nie saam met enige ander kinematograaf sou gekry het nie. Sunel se oog en gevoel vir die Noord-Kaapse landskap is afkomstig van haar lang verbintenis met die Karoo en Noord-Kaap vanweë haar agtergrond in dokumentêre films.

Skrywers  – Corine Du Toit En Sandra Vaughn

Aan hoeveel flieks en TV-reekse het julle al saam geskryf? En hoe lank skryf julle al saam?

Sedert 2012 het ons al ’n hele paar goed saam geskryf. Ons eerste gesamentlike projek was Liefste Kayla. Daarna het Geraamtes in die Kas gevolg, waarvoor ons ’n SAFTA gewen het. Ons het ook die teks van Elke Skewe Pot vertaal en geredigeer, skryf tans aan die klug Die Kasteel en het ook al verskeie ander tekste vertaal en geredigeer.

Ons fliektekste sluit in As Jy Sing, Alles Wat Mal Is en Sink, wat ons saam met Anel Alexander vertaal en geredigeer het. Ons het ook heelwat ander projekte in die pyplyn wat klaar geskryf en tans in die ontwikkelingsfase is.

Hoekom werk julle twee so goed saam?

Die meeste mense dink dis omdat ons ’n verjaarsdag deel, maar ons weet dis ’n kombinasie van ons verskille en sterkpunte wat mekaar absoluut aanvul. Ons is baie eerlik met mekaar en het albei heerlike, wilde verbeeldings sonder grense. Ons het dieselfde sin vir humor (party mense sê dis nogal donker) en om baie te lag terwyl ons skryf, is ’n natuurlike deel van ons werksdag. Ons is albei Christene, wat beteken dat ons nie net skryf vir vermaak nie. Ons probeer altyd ’n dieper, insiggewende boodskap oordra, al is dit net ’n boodskap van hoop of om ’n saak van twee kante af te sien.

Dit maak sin dat twee vroue hierdie storie oor drie susters geskryf het. Wat was julle inspirasie?

Johan Vorster en Jenny Griesel het ons genader om ’n chick flick met sterk vroulike hoofkarakters te skryf. Daar is met die idee gespeel om met ’n troutema te begin, maar in daardie stadium was daar baie bruilof-gedrewe rolprente. Toe besluit ons om die fliek eerder met ʼn begrafnis te begin. Dis dieselfde tematiek. Ons het van die idee gehou van susters wat ’n sterk band het, al is dit nie biologies nie: sterk vroue met uiteenlopende idees en persoonlikhede, maar saamgebind deur hul liefde vir mekaar en hul aanneem-ma, Martie.

Wat was vir julle die hoogtepunt om saam aan Susters te skryf?

Definitief die eerste drie maande se skrywery. Susters het daarop aangedring om geskryf te word en ons vir drie maande besig gehou totdat ons uiteindelik Die Einde kon tik. Ons het letterlik daarvan gedroom en selfs in die middel van die nag vir mekaar stemnotas gelos. Ons breine wou net nie afskakel nie.

Susters was werklik soos ’n baba wat jy voor jou oë sien grootword, en die dag toe ons op stel stap en ons kop-prentjies in lewende lywe sien, het ons albei soos trotse mammas trane in ons oë gekry.

SUSTERS

Die Akteurs

Leah

As Jy Sing, Sneeukoningin 2, Sterlopers (TV)

Wat maak Susters  so ’n unieke rolprent?   

Dis visueel verskriklik mooi en die musiek is op internasionale standaard. Die verskillende karakters bied iets vir almal. Dis ’n fliek met baie hart!

Diaan Lawrenson

7de Laan (TV), Sink, Semi-Soet, Stander, Mooirivier, Raaiselkind

Waarin lê die lekkerte van Susters?

Vir my is Susters a slice of life. Dit is my gunsteling genre, want dit weerspieël die lewe in al sy eenvoud én kompleksiteit. Ek dink die hele sisterhood-tema gaan wyd aanklank vind. Dan is daar natuurlik avontuur en liefde en die humor en verhoudings tussen mense is eg. Ons vier beslis die liefde tussen vroue, en dit is baie relevant.

Quanita  Adams

Forgiveness, Cape of Good Hope, Skeem, Binnelanders (TV), Tess.

Waarom dink jy is Susters  ’n unieke rolprent?

Dis ’n vrolike reis deur die land, wat ’n paar minder bekende, weggesteekte juweeltjies oplewer. Die prent het alles ‒ jy vóél alles, lag ’n bietjie, huil ’n bietjie, is ’n bietjie geskok … dis alles daar. Die rolverdeling is uitstekend en dit was baie pret om die prent te maak. En ek glo die gehoor gaan net soveel pret hê as hulle daarna kyk!

Sean Marco Vorster

Amaza, Die Windpomp, Strikdas, Naweek (TV) & Pasella (TV)

Waarom dink jy is Susters  ’n unieke rolprent?

Dis ’n heerlike familie gedoente, baie snot en trane, maar ook baie humor. Die rolprent wys vir ons dat ons soms dinge te ingewikkeld maak en dat ons dan maklik die dinge wat werklik van belang is, miskyk.